top of page

"Bewaak jou hart meer as alles"! (Reghard "Kattie" Peens) begrafnis boodskap.


Spr 4:23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.


Ons bewaak ons huise met heinings en mure en alarms om misdadigers uit te hou. So moet ons ook ons harte bewaak. Die verkeerde elemente wat daar kan inkom is bitterheid, verdriet, onvergewensgesindheid, twyfel, selfbejammering en ongeloof. Die oorsprong van ons lewens kom uit ons harte en as daar duisternis in is, is ons lewens versuur en `n ramp. Sorg dat jou hart met die Here reg is, sodat jy regverdig kan lewe.


Die Here stel persoonlik belang in elkeen van ons. Hy wil met elkeen `n noue verhouding hê, dit is sy eerste prioriteit. Hy stel ook belang in die welstand van elke gemeenskap en ons land. Kom laat ons elkeen sorg dat ons saak met die Here reg is. Dit is die belangrikste doel in ons lewens. As ek nie die waarheid vir julle voorhou nie, is ek `n lafaard en `n huigelaar. Ons kan nie leef soos ons wil en dan dink die Here is in en by ons nie. Maak seker dat jou saak met die Here reg is. Ons word op die aarde tyd gegun en genade gegee om ons saak met God reg te maak.


Eph 2:1 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes

Eph 2:2 waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,

Eph 2:3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.

Eph 2:4 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,

Eph 2:5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered.


Kom ons sien soos God sien. Ons staan onder die bome en tussen geboue en kyk teen dit vas en kan nie ver sien nie. Die probleem is egter naby ons en deur ons eie kortsigtigheid kan ons dit nie sien nie, want die eie ek is op die troon. As ons wil sien soos die Here sien, moet ons in ‘n helikopter klim en van bo-af kyk. Dood is vir ons heeltemal iets anders as wat die Bybel sê. As die die Bybel van dood praat, is dit om vir ewig van God geskei te wees. Die Bybel sê dat ons sonde en ons misdade ons dood maak. As ons in Christus is dan sal ons leef. Dan het die dood geen houvas op ons nie. Die lewe is in Christus. Hy sê: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe. As jy Christus het het jy die lewe.”


As Kattie hier kon staan sou Hy sê: “ Maak reg met God, leef reg met God!” Namens hom sê ek ook dat jy jou lewe in orde met God moet kry, Jesus het daarvoor aan die kruis gesterf. Gee hom die reg in jou lewe, sodat jy kan lewe.


Rom 8:28 Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewens gebeur om sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit.


Spreuke 4:20-27

20 Jong vriend, luister baie mooi na wat ek vir jou sê. Spits jou ore vir my lewenswysheid.

21 Vergeet dit nie ’n enkele oomblik nie. Hou jou oë altyd op die spreuke se lewensreëls. Dink heeltyd daaroor na.

22 Wie dit sy eie maak, sal vreugde ervaar, soveel dat dit selfs sy liggaam beter sal laat voel.

23 Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed.

24 Vermy dom praatjies en leuens en glibberige woorde.

25 Dink mooi na oor alles wat jy sien. Kyk na die goeie dinge van die lewe.

26 Let mooi op hoe jy jou lewe inrig en kyk waarheen jy stap.

27 Jou manier van leef bepaal jou geluk!


Nog `n huis storie:


Daar was `n man wat in `n groot dubbelverdieping huis gebly het. Iemand het aan sy deur kom klop en toe hy oopmaak, staan Jesus daar. Hy nooi Hom toe in en sê: “Kom bly in die boonste verdieping, asseblief.” Die nag was daar `n klop aan die deur en toe hy oopmaak, staan die duiwel daar en stamp die deur oop en slaan hom en maak hom seer. Die volgende dag kla hy by Jesus en sê:”Hoekom gebeur dit nou met my?” Jesus sê: “Jy het my die boonste verdieping gegee en gesê ek moet daar bly. Ek het nie toegang tot die onderste verdieping nie. Hy sê toe vir die Here dat Hy in sy hele huis kan bly, maar dat hy graag nog een kamer vir homself wil uithou. Dieselfde nag was daar weer `n klop aan die deur. Moedeloos het hy maar weer die deur oop gemaak en die duiwel daar gekry. Hy wou die deur toestamp, maar die duiwel was sterker as hy en het die deur oop gestamp en hom weereens geslaan en seer gemaak.


Die volgende dag was hy baie teleurgesteld en het moedeloos vir Jesus gesê: “Ek het U die hele huis gegee om in te bly en hoekom laat U toe dat ek geslaan en seer gemaak word?” Jesus het sê: “Jy het die een kamer vir jouself uitgehou. Ek kan slegs beheer neem van kamers waar jy My toelaat.” Jesus is nie `n indringer nie. Hy vat slegs beheer van ons lewens waar ons Hom inlaat. Die man het mooi gedink en gesê: “Here, U kan nou maar die hele huis kry en dan sal ek by U woon. Ek gee alles prys en U het beheer oor al die vertrekke in my huis.” Die nag was daar weer `n klop aan die deur en hy wou net weer moedeloos word, maar het nogtans gegaan om te kyk wie daar was. Toe hy wou oopmaak, het Jesus se hand by hom verby gekom om die deur oop te maak. Die duiwel het verskrik in Jesus se oë gekyk en gesê: “Jammer, verkeerde addres!” Kom ons gee ons hele lewe vir Jesus en plaas Hom in beheer. Dan sal Hy vir ons stry en ons lewens vir ons rig.


Sluit met Simson se verhaal.


Simson het onder die groot stadion van die Filestyne gestaan. Sy oë was uitgesteek en hy het sy krag verloor. Hy het gedink aan die dae wat hy die oorwinnings oor die Filestyne behaal het. Hulle het hom verneder, want hy het die Here se krag verloor en was ‘n bespotting. Sy trane het uit die leë oogkaste, waar daar eens op `n tyd twee mooi blou oë was, geloop. Hy het gedink aan `n genadige en barmhartige God wat hy dien en het uitgeroep: “Here, Here dink aan my!” Hy het die krag in sy arms voel terugkom, want God is genadig en vergewe almal se oortredinge. Hy het die twee pilare, wat die hele gebou vashou, styf vas gevat en begin trek aan hulle. Met ‘n gekraak en geklap het die gebou in mekaar getuimel. Al die Filestyne was dood en hy ook, maar hy leef want daar was vergifnis vir hom.


Gebed:

Here, kom en vergewe ons en help ons. Kom en maak ons harte skoon sodat ons regverdig voor U kan staan. Here, maak ons opnuut U kinders. Ons roep soos Simson uit: “ Here, Here dink aan my!”


Onlangse krabbels
Argiewe
bottom of page