top of page

God doen die res!


Ons almal ken Johannes 3:1-16. Nikodémus is ‘n kenner van die wet, hy word hoog aangeskryf deur die ander Fariseërs vir sy kennis van die wet.

Maar hy kom in die “nag” na Jesus en hy wil weet wat hy moet doen om gered te word. Jesus verduidelik dit baie eenvoudig aan hom, jy moet van bo gebore word deur water en deur Gees. Die mense moet net na God kom en God doen die res. Hy trek ons na Hom deur Sy liefde. Die vraag is wat doen God.

Hy het die sondaars so lief dat Hy, Sy Seun gegee het vir ons. Ons gedenk dit nie net met Paasfees nie, maar elke keer wanneer ons nagmaal gebruik. Die vraag is of ons ook die sondaars so lief het soos Hy? Dink ons nog ooit aan mense wat verlore gaan?

As Jesus praat van die wêreld, is dit almal wat nie Hom volg nie. Ons vergeet so gou dat ons ook lank nie vir Hom gevolg het nie.

Hoekom raak ons so gou tevrede met waar ons is? So tevrede dat ons skoon vergeet van die mense wat verlore is.

Ek het die woord liefde geneem en net so ‘n paar woorde gekies om by dit te pas.

L – Lankmoedigheid –

Hy is so lankmoedig met ons as ons foute maak.

I – Integriteit –

Daar is geen leuen in Hom nie, Sy ja is Sy ja en Sy nee, Sy nee.

E – Eerbaar –

Hy is so eerbaar en verdien alle eer.

F – Fontein –

Hy is die lewende water wat deur ons wil vloei.

D – Deernis (“compassion”) –

Hy het deernis met verlore gaande mense.

E – Een –

Vader, Seun en Heilige Gees.

Die woorde is alles op God van toepassing, maar dit moet ook op ons van toepassing wees.

Jesus bid vir ons in Johannes 17: 22-23 “Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.”

Kom ons meet onsself aan Hom en ons vra Hom om ons te help om alle ding neer te lê, wat keer dat ons verlore gaande mense kan lief hê.

Ons kan leer by die vervolgde kerk, want al word hulle lewens bedreig, hou hulle nooit op om Hom te eer en om Sy liefde aan die wat hulle vervolg te deel nie.

As ons weer dink aan Nikodémus, lees ons weer van hom in Johannes 19:39, waar hy gekom het toe Jesus gesterf het, so hy het ‘n keuse gemaak om Jesus te volg. Is ons bereid om Hom te volg as is dit moeilik, al wil die mense ons wegjaag as ons Sy liefde met hulle wil deel? Wat is jou keuse? Wil jy liefhê soos Hy lief het?


Onlangse krabbels
Argiewe
bottom of page