top of page

Volhard in Christus!


Ek het groot geraak met ‘n pa wat baie lief was om vis te vang. Hy het letterlik tot op die dag wat hy gesterf het nog vis gevang.

Hy het gaan vis vang en daarna het hy na ‘n koppie op ons plaas gery waar hy gekyk het waar die skape geloop het. Daar het ‘n massiewe hartaanval gehad en gesterf. Sy skaaphond het by hom gebly en ons worshond het 8km na die boonste plaas geloop waar hy by die werkers gekerm het, maar hulle het net gedink my pa het hom weggery.

Daarna is hy weer terug na die ander plaas waar hy by mense wat daar gewerk het gehuil het, totdat hulle my gebel het.

As ons Jakobus 1:12-18 lees, word die woord versoek gebruik, in Engels “Lure”. As iemand vis vang, gebruik ‘n mens aas. Sommige gebruik lewendige-aas en baie ander kuns-aas. ‘n Mens kan nog verstaan dat ‘n vis sal gelok word deur lewendige aas, maar ‘n mens wonder nogal hoekom ‘n vis aangetrek word na ‘n stuk plastiek of rubber aas.

Die satan probeer ons ook vang met verskillende sondes. Hy gooi verskillende aas uit om ons te vang. Die vlees in ons veroorsaak dat ons weggelok wil word na die sonde. Maar Christus het die volle prys vir ons betaal aan die kruis, sodat ons die oorwinning deur Hom oor sonde kan hê

Die satan wil ons besig hou met sy visvang werk, maar eintlik wil God hê dat ons vissers van mense moet wees.

Paulus skryf in 1 Thess 3:5 van die satan as die versoeker. Hy sal aanhou om ons te versoek en te probeer weglok en vang, sodat ons nie in die oorwinning van God kan lewe nie.

Hy wil ons verhoed om te getuig van die liefde van God en om ander mense met Sy liefde te bedien. Die satan wil ons gevange hou in sy net van sonde en skuldgevoel om nie te kan getuig nie. Dit verhinder ons ook om te bedien. Die satan weet dat as ons begin getuig en bedien, dan groei ons.

Ons het Heilige Gees wat ons lei en vertroos om ons te help om te kan dien en deur dit te bedien. Onthou ons grootste getuienis is nie ons woorde nie, maar ons lewe. Ons is ‘n brief geskryf vir hierdie wêreld. Ongeredde mense hou ons dop om te sien hoe reageer ons in moeilike omstandighede. So volhard in die navolging van Jesus in alle omstandighede.

Onthou dat as daar versoeking kom, sal Vader ook vir ons die uitkoms gee. Volhard in Christus.


Onlangse krabbels
Argiewe
bottom of page