top of page

VOLHARD!


As ek kyk na my kinders wat baie klein is en hoe hulle baie keer maklik moed opgee. Ja, verseker is hulle baie klein en hul aandagspan is nie so lank nie, maar ek as ouer het ‘n verantwoordelikheid om hulle volharding te leer.

Vader help my as sy kind ook om te volhard in Hom, deur Hom en saam met Hom.

Matt: 10:22

En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

Matt: 24:13

Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

In beide hierdie gedeeltes (lees die hele hoofstuk), verduidelik Jesus aan ons dat ons verseker vervolging gaan beleef as gelowiges en dat ons moet leer om te volhard in Hom.

Hy sê ook dat “die liefde van die meeste sal verkoel”. Hoe lief het ek Hom werklik, my liefde vir Hom word getoets veral wanneer ek vervolg word. Ook word my liefde vir ander getoets as ek vervolg word.

As Jesus in hierdie gedeeltes praat van volhard dan sê Hy dat die wat aanhou glo tot die einde toe sal gered word. As ons nie aanhou glo nie, sal ons liefde vir hom verkoel.

Het ek Jesus nog so lief soos ek Hom lief gehad het toe ek Hom vir die eerste keer ontmoet het, of het my liefde vir Hom begin verkoel?

As ek dink hoe ek in ‘n huis groot geraak het, waar my Pa en Ma ons geleer het van die Here en hoe ek elke Sondag in die kerk was, maar nooit Jesus as my Saligmaker ontmoet het nie. Ek het selfs geloofsbeleidenis afgelê, maar Hom nie geken nie. Ek het baie geweet van Hom, want ek het Bybel gelees, maar Hom nie geken nie.

Dit was eers later in my lewe dat Hy my gekonfronteer het om ‘n besluit te maak om Hom te volg en ander van Hom te vertel.

Matt: 12:29-31

En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ’n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.

As ons Hom lief het dan werk Sy liefde in ons sodat ons ander deur Sy genade kan liefhê.

Lees Hebreërs 10, maar veral vers 36 Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.

Ons het volharding nodig in ons lewe, maar ons hardloop baie keer weg van waar Jesus ons wil hê. As dinge te moeilik raak in ons lewe begin ons verward rondkyk en hulp soek by ander mense en dinge, maar nie altyd by Hom nie.

Nog ‘n baie belangrike deel van ‘n gelowige se lewe is gebed, ons sukkel so om te volhard in gebed.

Jesus vertel ‘n gelykenis in Lukas 18:1-8

1 En Hy het ook aan hulle ’n gelykenis vertel met die oog daarop dat ’n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,

2 en gesê: Daar was ’n regter in ’n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie.

3 En daar was in daardie stad ’n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty.

4 En ’n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie,

5 tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie.

6 Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê.

7 Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?

8 Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

Ons raak so maklik moedeloos as ons na ons omstandighede kyk. Selfs as ons begin bid en dinge verander nie soos ons dit wil hê nie, raak ons soms maklik moedeloos.

Ons moet leer om te kyk en te soek na Jesus in alle omstandighede en dan te vra, wat wil U hê ons moet leer?

Baie keer gaan ons ook deur moeilike omstandighede dat ander moet leer of aangeraak kan word.

Dink maar net aan al die getuienisse van vervolging en wrede, onregverdige moorde waarvan ons lees in die Bybel. Broers en susters van ons in Jesus, wat moet ly, sodat ons kan groei as ons daarvan lees.

Vader maak as ons oë oop om te sien dat U besig is om ons in alle omstandighede te leer en te lei. Help ons om te volhard in ons lewenswandel met U, asook in gebed. Help ons om nooit die wat U nie ken as hul Saligmaker te vergeet nie. Amen


Onlangse krabbels
Argiewe
bottom of page